Friday, 05 August 2011

Jy lewe, al sterwe jy

Julle moet nie onkundig wees oor wat met die ontslapenes gaan gebeur nie. Dan sal julle ook nie treur nie, soos die ander wat geen hoop het nie.
(1 Tess. 4:13)

Baie gelowiges verstaan nie dat die dood van 'n geliefde nie die einde van alles beteken nie. Daarmee wil ons nie vir geen oomblik ontken dat die dood droefheid en skeiding meebring nie. Maar die Christelike geloof leer ons dat, deur die opstanding van Jesus Christus, dat daar selfs in die dood vir jou hoop is - nie hopeloosheid nie. Met sy oorwinning oor die graf het die Seun van God alle vrees vir die dood vedryf en het nuwe betekenis gegee aan sy stelling enkele dae voor sy dood: 'Ek is die opstanding en die lewe, wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie' (Joh.11:25-26).

Vind ook troos in Jesus se woorde aan die sondaar langs Hom aan die kruis: 'Vandag sal jy saam met My in die paradys wees' (Luk.23:43)

In Jesus se gelykenis van Lasarus en die ryk man is Lasarus direk na sy dood na Abraham toe geneem. Tydens die verheerliking op die berg het Moses en Elia aan Jesus en sy dissipels veskyn. Dit beteken al hierdie mense het gelewe, al was hulle lewe op aarde beëindig.

Die dood van 'n geliefde is pynlik, maar kyk in die krag van die Meester verby die beperkings van die aardse lewe. Al is die lig van jou geliefde se tydelike lewe miskien uitgewis, is die doel daarvan om nie om jou in die duisternis van wanhoop te werp nie, maar om hoop aan te kondig vir die een wat geroep is - die begin van 'n nuwe, heerlike lewe wat deur die lewende Christus beloof is aan almal wat in Hom glo.

Dit is wat die hooploosheid van die dood transformeer in hoop vir 'n lewe in Christus anderkant die graf.

Seënwense
Susie 

1 comment:

  1. This was a very insightful blog. Thank you so much for your inspiring words.

    Lynette

    ReplyDelete